Grondwet (opgestel deur Tiny Torres)

GRONDWET VAN DIE X-KRING

Hier uiteengesit volg die grondwet van die x kring soos geskryf in die somer aan die einde van die tweeduisend en eerste jaar en aan die begin van die tweeduisend en tweede jaar van onse Heer. Dit is opgestel om ten bate van elke lid te wees, nie net op die gebied van wyngenieting nie maar ook in sy alledaagse lewe vir hom ‘n kode te gee om soos die moderne jintelman op te tree.

1. Aard van kring
Die kring sal uit maksimum tien aktiewe lede en maksimum van 0 nie aktiewe lede bestaan en as ‘n artikel 21 maatskappy bekend staan, dit sal nie een wees of as een optree of as een geregistreer wees nie, dit sal net bekend staan as een. Artikel 21 maatskappye het nie winsbejag nie, sedert die meeste van die lede van hierdie kring(voortaan sal na hulle as kringers verwys word) wins maak by die werk en matig tog taamlik jags is sal dit nie baat om die maatskappy as ‘n artikel 21 maatskappy te registreer nie.

2. Vereistes
Om te kwalifiseer om op die waglys van die kring te beland is eenvoudig manlik. Vir verwysing en om ooit enige misverstand uit die weg te ruim wil ek graag uitlig dat nie Michael Jackson nog Fernando ooit aan ons kring sal kan behoort nie.

3. Doelstelling
Die kring het ‘n tweeledige doelstelling.
2.1 Die kring het ten doel om die kennis van wyn te verbreed en te poog om die misterie van wyn te ontrafel, of om soms ook net te ontrafel met wyn.
2.2 Ten tweedens is dit ook om die ontlykende afrikaner intellek te stimuleer.

4. Kworum
Daar sal ‘n kworum wees indien sewe of meer van die kringers teenwoordig is, of as slegs die Steenkamp broers teenwoordig is, dit geld natuurlik slegs op die 29 ste Februarie wat saam met ‘n eeuwisselng val(soos ons gehad het in die jaar 2000 AD, die volgende een is natuurlik in die jaar 2400 AD)

5. Tugprosedure
Dissipline: ‘n tekort hieraan is seker die een enkele rede dat die wêreld vandag lyk soos hy lyk, so skeefgetrek dat dit haas onmoontlik is om te sien hoe ons mootlik kinders kan grootmaak in hierdie milieu. Daarom sal die tugkommitee, tugmaatreëls en tugprosedure van die kring van so aard wees dat dit dissipline sal afdwing en die kring asook die kringers suiwer en edel sal hou. Die tugkommitee sal die tugtigings proses behartig, die kommitee bestaan uit 1x tugmeester, 1x assistent tugmeester en ook 1x meriete lid. Die tugkommitee kan persone vir die volgende oortredings straf.
5.1 Kringers wat laat opdaag vir kring
5.2 Kringers wat sonder versknonig wegbly
5.3 Kringers wat tydens ‘n wynproe die woorde drink, dronk of drank gebruik
5.4 Kringers wat ooit na ‘n wyn as “cool”, “nice” of “groovy” verwys
5.5 Kringers wat poog om mede kringers se susters beter te leer ken, op enige vlak
5.6 Enige diverse optrede wat deur die tugkommitee beskou word as ‘n bedryging vir die kring se onafhanklike voortbestaan
Die grootste straf denkbaar ooit sal opgelê word indien een van die kringers na Hansie Cronje verwys as “…ons kaptein…” of enige ander goeie woord vir die sleg bliksem het.

6. Algemene reëlings
Die kring sal elke eerste Donderdagaand van de maand vergader, tensy vooraf anders beplan en ten minste die Maandag reeds kennis gegee is van die verandering.
Daar is geen voorsitter nie en die persoon wat die proe aanbied sal as ad hoc voorsitter optree.
Twee sosiale uitstappies word elke jaar gereël, sien latere bylaag oor Minister van toerisme se portefeulje beskrywing.
Junie 2002 se eerste naweek word opsygesit vir die jaarlikse Manne-wegbreeknaweek soos gereël deur die Minister van Toerisme
Desember 2002 se eerste Vrydagaand of Saterdagaand kan oopgehou word vir die jaareind-funksie (‘n ete uit met metgeselle).
Daar sal dus tien proeë per jaar wees met die voorsitter van die aand wat ook die Skriba minstens ‘n week voor die tyd van die plek sal voorsien.
tensy anders gereël deur die voorsitter met die Skriba en groep, sal alle proeë stiptelik 19h00 vir 19h30 begin ; laatkommers sal deur die Tugkommitee gestraf word;
Kleredrag is netjies.
Enige verskonings moet so spoedig moontlik by die Skriba ingedien word.
Glase en proekaarte sal na die proe aan die volgende maand se voorsitter oorhandig word wat die glase sal was en gereed hê vir sy volgende proe.

7. Ampte
Die volgende ampte is beskikbaar binne die kring;
- Skriba : Die skriba sal verantwoordelik wees vir die finansiële sy van die kring en sal sorg dat daar onder geen omstandighede wins gemaak word nie.
- Balju : Die uitvoering van enige tugmaatreëls word in die bekwame hande van die balju gelaat, eie inisiatief sal gebruik word.
- Penningmeester : Die penningmeester sal verantwoordelik wees vir alle korrespondensie wat die kring voer tydens sy termyn. Enige briewe, notules ens. Sal eers aan die penningmeester gestuur word, hy sal toesien dat dit al die nodige persone op die gegewe tyd bereik.
- Regsadviseur : Die enigste twee vereistes om as regsadviseur te kwalifiseer is dat jy geen regskennis of regsagtergrond het nie en dat jy jou brood en botter iewers in die Suid-Afrikaanse wingerd en of wynbedryf verdien.
– Tugmeester : Die persoon sal aan die hoof van die tugkommitee staan en sal die straf uitspreek wat deur die balju uitgevoer sal word.(Sien grondwet 1. Paragraaf 7)
- Minister van Toerisme : Hy moet partydjies reël, bywoon, uitdink, saamstel, skoonmaak, planne beraam en ‘n sagte plekkie hê vir alkohol en klein Bengaalse tiertjies.
– Minister van Heildronke en Gesegdes : Die persoon sal daarvoor verantwoordelik wees dat daar aan die begin van elke wynproe ‘n heildronk ingestel word op iemand wat in die voorafgaande maand ‘n verskil gemaak in die wêreld, hoe groot of hoe klein ook al.

Wanneer ‘n pos vakant raak sal dit op die eerste daaropvolgende vergadering gevul word.
Geen amp kan vir langer as twee diensperiodes deur die dieselfde kringer gevul word nie.
Een diensperiode is 12 maande lank